Kultuurkleuterskole se plek in n vinnig ontwikkelende wêreld!

My kind moet kan droom in Afrikaans, Saterdae aande kan saam braai met regte hout en Sondae langs my op die kerkbank sit, hy moet kaalvoet kan rondhardloop, FAK liedjies kan sing by die skool, trots wees op die Voortrekkers en bekend wees met volksverhale wat vertel word in klaskamers en kuiers saam met vriende.  Hy moet lippe aflek vir koeksisters, melktert, bobotie, biltong en droëwors.  Daarom moet ek as ouer reg kies wanneer dit kom by die keuse van ‘n kleuterskool, skool of selfs ‘n naskoolsentrum vir my kind om hierdie wense kan help vorm!

Kleuterskole speel ‘n kritiese rol in die vroeë ontwikkeling van kinders en vorm die fondasie vir hul toekomstige leerervarings. In ‘n ondersoek is daar bevind dat daar  beduidende verskille is tussen ‘n tradisionele kleuterskool en ‘n kultuur kleuterskool, veral met die fokus op die belang van taal, waardes, en geskiedenis.

Ons tradisionele kleuterskole lê dikwels klem op die algemene ontwikkeling van kinders, met ‘n fokus op basiese vaardighede soos taal, wiskunde, en sosiale interaksie. Hierdie skole bied ‘n universele benadering tot onderwys, wat nie altyd die unieke kulturele identiteit van elke kind voldoende erken nie maar ‘n meer algemene akkommoderende benadering volg.

In ‘n tradisionele kleuterskool is die onderrig van moedertaal dikwels nie voldoende prioriteit nie, en kinders mag nie die diepte van hul kulturele erfenis of godsdienstige oortuigings volledig verstaan nie. Hierdie benadering kan ‘n gemis aan selfbewustheid en identiteit vorming in die latere lewe tot gevolg hê.  Die kleuterskole beskou dit as prioriteit dat geen kind te na gekom moet word of blootgestel moet word op grond van sy herkoms nie.

Kultuur kleuterskole, aan die ander kant, neem ‘n holistiese benadering wat die kulturele erfenis van elke kind in ag neem. Hierdie kleuterskole streef daarna om ‘n omgewing te skep waar taal, waardes, en geskiedenis ‘n integrale deel van die opvoedkundige proses is. Dit bied ‘n geleentheid vir kinders om hul eie identiteit te ontdek en ‘n sterk band met hul eie kultuur te ontwikkel.

Een van die uitstaande kenmerke van ‘n kultuur kleuterskool is die aktiewe bevordering van moedertaal onderrig. Hierdie benadering versterk nie net die taalvaardighede van die kinders nie, maar gee hulle ook ‘n dieper begrip van hul eie kulturele erfenis.

Wanneer daar dan ‘n vergelyking getref word tussen ‘n tradisionele kleuterskool en ‘n kultuur kleuterskool dui dit daarop dat ‘n kultuur kleuterskool ‘n beter grondslag kan bied vir ‘n kind se toekomstige sukses. Die erkenning en viering van kultuur dra by tot ‘n gevoel van behoort, wat op sy beurt ‘n sterk identiteitsbasis kan vorm.  Flip Buys voeg sy stem hier by wanneer hy sê: “ ‘n Lewende Kultuur is ‘n kultuur wat in staat is om te bou en nie net in stand te hou nie.”  Daarom moet ons opnuut begin bou!

Dit word dus aanbeveel dat ouers aktief soek na kleuterskole wat ‘n kultuur-gefokusde benadering het. Hierdie skole kan ‘n positiewe invloed hê op die selfbeeld van kinders, ‘n gevoel van trots in hul kultuur ontwikkel, en hulle toerus vir ‘n selfversekerde toekoms op grond van hul geskiedenis.

In ‘n samelewing waar diversiteit ‘n rykdom is, is die bevordering van kultuur in die kleuterskool ‘n noodsaaklike stap na ‘n inklusiewe en selfversekerde samelewing. Dit is dan ook die rede waarom Solidariteit Helpende Hand Ons Plek Kleuterskole en Naskoolsentrums ʼn unieke kultuurtuiste van uitnemendheid vir al ons kinders binne die Afrikaanse kultuurgemeenskap bied.  Ons weet dat armoede vele gesigte het, kulturele armoede is een hiervan.  Wanneer mense voel hulle behoort nie meer nie, is dit kulturele armoede.  My kultuur en die vryheid om dit uit te leef laat my behoort, dit maak my ryk! “Die opvoeding van ‘n kind in ‘n kultuur kleuterskool is nie slegs ‘n investering in die hede nie, maar ook ‘n bewussyn van die ryk erfenis wat hulle na die toekoms sal lei. Dit is nie net oor die oordrag van kennis nie, maar oor die vorming van ‘n selfbewuste identiteit wat ‘n kind se pad na sukses in die wêreld verhelder.” – Onbekend